Oeeee hoe koud kry my Voetjies

IMG_3847Dis nou maar een ding van die winter, jou voete vries af as jy in die bed klim en jou man gee sulke hoë gille as jy net so bietjie nader lê vir ‘n bietjie “liefkosing”. Hoe kan jy nou help dat jou voete in groot blokke ys verander het, op jou pad tussen die badkamer en die bed. Vrek, die winter is nou nie vir sussies nie.

Maar raai net wat, ek het die perfekte oplossing gekry. Lekker sagte snoesige slaap sokkie, wat jy self kan brei; en die patroon is nie te ingewikkeld nie.

Wat jy benodig:

  1. Brei penne – dit hang af van hoe dik jou wol is. Ek is lief vir my 4mm naalde
  2. Lekker “fluffy” sagte wol. Ek het vir my projekte “ultra soft” baba wol gekies

Hier is die patroon. Daar is drie skoen grotes (2-4, 4-8, 8-11). Begin maar en kyk. Die patroon begin by die hak gedeelte en dan werk jy na die toon toe.

Die patroon:

  1. Sit 44-52-52 steke op.
  2. Brei nou in enige steek patroon waarvan jy hou. Ek hou van waar jy een ry regs, en een ry awereg brei met hierdie wol
  3. Wanneer jou brei werk 11-12-14 cm lank is, verminder steke, 10-12-12 losserig aan elke kan.
    1. Dus, verminder die steke wanneer jy met ‘n ry begin, dan brei jy tot die einde. Draai om en verminder weer die steke op die volgende ry. Nou het jy elke kant  verminder.
  4. Brei nou verder totdat jou breiwerk 17-20-23 cm lank is. Verminder nou steke met elke regterkant van die breiwerk. Dit word 5x gedoen
    1. Nou as jy soos ek is en nie ‘n clue het waar dit is nie, besluit self watter kant is jou regte kant. Jou begin toutjie op ry een, sit hy regs of links op jou breiwerk. (Skryf dit neer, want jy gaan vergeet.)
    2. Jy moet 5 keer verminder. Tegniesgesproke moet jy 14-18-18 steke oorhê, maar myne is nooit en ek tel nie eens meer nie.
  5. Sny nou die wol, maar nie te kort nie sodat jy sommer kan vaswerk met die selfde wol. Werk nou hierdie wol deur die steke op die naald, en gooi die steke af.
  6. Trek nou die wol styf wat die steke op ‘n bondel trek om die toon te vorm.
  7. Steek goed vas en werk vas tot by jou enkel, van die toon af.
  8. Werk dan agter vas, van die hak, tot heelbo.

Voila, ‘n einde aan koue hoë gille, snags!

IMG_3849

Leave a comment